SKRYWERSROEM

 

Optog van priesters in ou Egipte. Beeldjies uit 'n graftombe.(deur ’n Egiptiese scriba, 1500 v. Chr.)

 

Die wyse skrywers in die tyd ná die gode,

Hulle wie se voorspellings waar word;

Hulle name leef vir altyd.

Hulle het na die ver land vertrek,

Hulle het die einde van hulle dae bereik.

Al hul tydgenote is vergete.

Hulle het geen brons piramides gebou nie

of suile van klip om hulle te vergesel nie.

Hulle het verkies om geen kinders [van hul eie vlees] Vallei van die Konings, Luxor, Egipte. Dis die "Weste" waarna in die gedig verwys word.

as hul erfgename agter te laat om hul naam voort te dra nie;

As erfgename het hul aangewys

die boeke wat hulle geskryf het en die gesegdes daarin.

 

Hulle het van hul boeke hul priesters gemaak,

Die skrywer se tablet het hul hul geliefde seun gemaak;

Hul gesegdes is hul piramides.

Vir hulle is die stilus ’n seun,

En die skryftablet ’n vrou:

Alles, van groot tot klein, is hulle kinders,

Want die skrywer is in hul gedagtes.

Muur binne 'n Egipties graf, Vallei van die Konings, Luxor, Egipte

Pilaargange en huise is gebou, maar hulle het vergaan;

Vergange is die priesters wat hulle voortgehelp het na die volgende wêreld.

Hulle suile lê in sand begrawe,

Hul grafte is vergete.

 

Hulle name leef voort, danksy die boeke wat hul geskryf het toe hul nog geleef het.

Die herinnering van hul geskrifte bly mooi,

En duur vir altyd, tot die einde van die tyd.

 

Wees ’n skrywer! Sit jou hart daarop om een te wees,

Sodat jou naam soos hulle s’n sal wees.

’n Boek is beter as ’n geverfde suil

of ’n muur oortrek met inskripsies.

’n Boek bou huise en piramides in die harte van diegene wat hulle name noem.

 

Waarlik, ’n naam wat voortleef op die lippe van mense

is iets werd in die begraafplaas.

Die mens verdwyn, sy liggaam word in die grond begrawe,

Al sy tydgenote vertrek van die aarde,

Maar die geskrewe woord plaas die gedagte aan hom

in die mond van elkeen wat dit aanstuur na die mond van ’n ander.

 

’n Boek is beter as ’n huis of die graftombes in die Weste.

Dis mooier as ’n kasteel of ’n suil in ’n tempel.

Is daar iemand wat met Hardedef vergelyk kan word?

Is daar iemand wat met Imhotep vergelyk kan word?

In ons eie tyd was daar geen een soos Nefri nie,

Of Kheti, die grootste van almal.

 

Ek gee jou die naam van Ptah-Djehuti en van Kha-Kheperre-Seneb.

Is daar iemand wat vergelyk kan word met Ptah-Hoteb of Kares?

 

Wyse mense voorspel die toekoms en hul woorde word waar.

Ons word voortdurend herinner aan gesegdes wat in hulle geskrifte gevind word.

Hulle het as erfgename ander se kinders ontvang asof hul hul eie kinders was.

Daarom, alhoewel hul verlore en vergange is, roer hul towerkrag diegene wat hul geskrifte lees.

Hulle het na ’n verafgeleë land vertrek, maar die letters wat hulle geskryf het, het hul herinnering bewaar.

 

Uit: Schott, S 1956. Les chants d’amour de l’Egypte ancienne. Paris. ’n Vrye vertolking van die oorspronklike, verafrikaans deur J A Loubser.